Adrenalin Hunting Safaris is begin deur Charl Johnsen en Richard Kok. Ons passie is jag en daarom maak ons dit ons werk.  Ons is al jare in die bedryf en is gekwalifiseerde professionele jagters wat jagte van uitstaande gehalte bied. Ons doen trofee jagte sowel as biltong jagte en sorg dat jou seun en dogter ook hulle bok of voël skiet. Ons doen moeite met die tjokkertjie met die windbuks wat net ‘n paar skote op die skietbaan wil skiet en selfs vir ma wat nog nooit ‘n skoot geskiet het nie – almal sal hulself geniet.  Dit is vir ons belangrik dat elkeen wat die week of naweek by ons spandeer tevrede sal huistoe gaan en daardie oomblik waarvoor hy gekom het sal onthou.

Waar kan jy lekkerder jag as in die hartjie van die Bosveld? Ja, jy het reg gehoor, dis anderkant die Soutpansberg net duskant Alldays. Daardie slegte grondpadjie wat kronkelend deur die bos gaan en jy naderhand dink jy is verdwaal. Dis daardie een wat jou tot by Adrenalin Hunting Safaris neem.  Die stilte raas in jou gemoed en jy raak rustig sonder dat jy dit agterkom. Dis hier waar die jakkels jou na donker kom groet en jy wonder of hy langs jou sit. Jou kans is nog goed om vroeg oggend in die luiperd of heina vas te loop of miskien, nog die leeu te hoor brul.
Dis daar waar die mamba jou nog laat swaar sluk en die sweet jou aftap sonder dat jy daarvan weet. Die oomblik wat jy nie weet of jy moet staan, skrik of hardloop nie. Daardie oomblikke en ervaringe wat jy vir jare gaan onthou.

Ons bied vir die gesin, die manne en die korperatiewe groep die geleentheid om hulself te geniet.  Ons jag nog op die ou manier en jy moet die natuur uitoorlê om jou sukses te ervaar.  Laat middag neem ons die wat belangstel op ‘n wildbesigtigingstoer of hulle kan in die kamp ontspan terwyl die wild op die grasperk wei.  Die fotograaf het ook kans om daardie perfekte foto te neem.  Ons leef hier in harmonie met die natuur so julle is welkom om in ons passie te kom deel.

Vir die passievolle boogjagter is daar ‘n paar skuilings om in te gaan vertoef tot die regte geleentyd hom voordoen  om jou bok of trofee te neem en dit jou eie te maak. Ons het  skuilings op strategiese plekke geplaas met groot sukses.  Vir die geweer jagter is daar die oop veld om in rond te stap en die ruigtes en rivier bed om in weg te kruip sodat jy jou ervaring teen die natuur kan beproef.

Daar is 17 spesies om van te kies. Jagters het ook die geleentheid om die Groot 5, seekoeie en krokodille te jag.  Ons reel ook jagtogte in die buiteland (Zimbabwe, Namibie en Mosambiek), visvang ekspedisies en ook daguitstappies vir die dames, kinders en enige nie-jagter na naburige besienswaardighede.

Daguitstappies:

• Limpopo Predator Park – loop saam met die leeus of speel met die wit leeu welpies.
• Krokodilplaas
• Pottebakkery in Venda land
• Besoek die Reuse Kremetartboom
• Besoek die Kruger Nasionale Park en hou piekniek by Crook’s Corner

Akkommodasie:

Ons het rondawels wat so ontwerp is dat pa en ma hull privaatheid het tewyl die kinders rustig langsaan slaap. Ons het ook rondawels vir die meer preutse paartjie wat elke een op sy of haar eie enkelbed wil slaap. Dan is daar ook die rondawel daar ver in die hoekie vir skoonma of die stoute paartjie. Elke rondawel het sy eie badkamer so badkamers word nie gedeel nie.

Rondawel is toegerus met die nodigste meubels om die besoekers se gemak te verseker. Elkeen het ‘n eie stoepie waar die middag of aand drankies in privaatheid geniet kan word. Yskassies word voorsien waarin drankies koel gehou kan word.

Die kamp kan met gemak 20 mense huisves.

Die “lodge” is so ontwerp dat alles daar kan plaasvind. Van kos maak , tv kyk en musiek geniet. Daar is n volledige kroeg en snoeker tafel en veerpyltjie bord.

Die lodge beskik ook oor n mooi swembad waar n mens lekker kan afkoel na die dag se gewoel. Ons het ook ons eie sjef so as jy nie lus is vir kos maak nie of saam met jou vriende wil kuier dan kan hy julle bederf vir n eksta fooitjie. Besoekers voorsien net hulle eie kos. Indien vooraf gereel kan ons ook alle spyseniering voorsien.Ons sal julle verseker dat nerens in die Bosveld gaan jy lekkerder kuier as by Adrenalin Hunting Safaris nie.